verkenners-logo-exp

Wie en Wat is die Verkenners?

Die Beweging het sy ontstaan gehad op 19 Oktober 1989 in die omgewing van Hekpoort. In 1990 het hierdie klompie manne besluit, onder leiding van Steve Strydom, om die beweging landswyd bekend te stel weens die talle navrae wat hul ontvang het. Om dit te vermag het ons die hulp gesoek van verskeie ander instansies en strukture om landswyd kontak te maak. Die Beweging het egter sy amptelike beslag gekry op 9 Februarie 1991 tydens sy stigtingskongres te Welkom.

Die Verkenners is die enigste ware en suiwer kultuurorganisasie waaraan die Boerevolk se mans kan deelneem. Ons dien nie politieke partye nie en is nie aan hulle onderdanig nie. Ons streef beslis na ‘n eie Vaderland waarin ons vry kan wees om alles wat vir ons dierbaar en kosbaar is instand te hou en uit te bou. ‘n Vaderland waarin ons ongehinderd God Drie-enig kan dien.

Hierdie beweging is gestig met die uitsluitlike doel om diensbaar te wees aan ons Skepper, die Drie-enige God en om in diens te staan van die Boerevolk.

Verder wil ons dit onomwonde stel dat hierdie beweging nie geïnisieer of tot stand gebring is deur enige ander organisasie nie. Ons is nie soos sommige persone wil beweer ‘n front-organisasie vir ‘n ander organisasie nie. As daar mense is wat iets anders wil beweer, dan is dit eenvoudig doelbewuste kwaadwilligheid.

Die gebeure in 1994 het die Volk uitmekaar geruk. Ons mense is lamgelê. Ons kan nie genoeg byvoeglike naamwoorde vind om die treurige toestand waarin ons volk verkeer, te beskryf nie. Dit wat met ons mense gebeur het, het hulle oor hulle self gebring omdat hulle op mense en nie op ons Skepper vertrou het nie. Ons volk het hul rug op God gekeer en daarom het hy geval en is sy redding slegs daarin geleë dat hy weer op sy knieë moet kom en die Lewende God moet dien. Juis in hierdie tyd is duiwelse magte besig met ‘n ongelooflike aanslag om die volk waarvoor ons so lief is in sy geheel te vernietig. Die aanslag is veral teen ons Godsdiens en kultuur, maar is hoofsaaklik toegespits op ons jeug. Indien hulle daarin kan slaag om ons jeug van ons te vervreem sal ons volk ophou om te bestaan. Ons glo werklik dat die Verkenners ‘n reuse aandeel kan hê in VOLKSBOU en VOLKSBEHOUD, maar slegs as Christenvolk.

Ons as Verkenners wil onsself en ons beweging aanbied as instrument in die hande van ons Hemelse Vader om gebruik te word om ons volk weer ‘n biddende volk te maak, en met alle middele tot ons beskikking en deur sy genade hierdie bose magte teen te staan.

Ons volk is in nood! Ons jeug word bedreig! Ons besef dat ons slegs ons taak sal kan uitvoer as ons werklik in elke dorp of omgewing Verkennersposte het. Daarom het ons die vrymoedigheid om dokumentasie aan u deur te gee met die vriendelike versoek om ons by te staan om in u omgewing ‘n Verkennerspos tot stand te bring. Indien u nie u weg oop sien om te help om ‘n Pos te stig of persoonlik te inisieer nie, identifiseer dan asseblief, indien moontlik, vir ons ‘n persoon wat bereid sal wees om ons hierin te help. Getalle is nie tersake nie. Daar is poste wat slegs uit ses lede bestaan maar wat met groot vrug funksioneer. Skaar u as individuele lid by ons.

Besoek gerus on webwerwe by http://www.verkenners.org.za/ en paardekraalverkenners.blogspot.com