Waarom die VVK?
Die VVK is nie nog ‘n organisasie wat lede werf nie. Die VVK kan en wil veral nie “leiers” vir die volk wees nie. Die VVK is ‘n administratiewe liggaam, wat soortgelyke werk doen as die IEC (“Independent Electoral Commission”) maar slegs binne volksverband.
Dus, die VVK is besig om ‘n verkiesing onder ons eie volk te fasiliteer. ‘n Verkiesing-
1. wat gaan bewys dat ons sin vir vryheid en reg lewendiger is as ooit;
2. wat drogredenasies, soos dat “ons nie kan saamstaan nie en nie leiers het nie” gaan ontmasker;
3. wat volksgenote bymekaar gaan bring wat bymekaar hoort;
4. wat ons rondom die enkele gemeenskaplike ideaal van selfbeskikking gaan versamel sonder dat ons verstrengel raak in onenigheid van “waar en hoe” nog voordat sulke kwessies werklik eers ter sprake is;
5. wat ons politieke tradisie van volksoewereiniteit gaan laat herleef.
Hierdie laaste aspek, die herlewing van volksoewereiniteit, moet goed begryp word – want met ons neerlaag in die Tweede Vryheidsoorlog op 31 Mei 1902, het ons ook die beginsel van volksoewereiniteit verloor en dit was die begin van ons knegskap van vandag.
In ons vrye Republieke het daar geen politieke partye bestaan nie. Sedert 1902 is ons verstrengel in die Britse parlementêre stelsel van politieke partye, party-willekeur en ‘n volk wat in ewigdurende vyandige kampe verdeel word deur beroepspolitici. Met die VVK-inisiatief het daardie noodlottige era van party-politiek verbygegaan. Want enige lid van die volk wat as kieser op die VVK-kiesersrol geregistreer is, sal die reg hê om Volksraadslede te nomineer.
Volksraad-kandidate sal in persoonlike hoedanigheid verkies word en NIE as een of ander “grootkop” van een of ander politieke party nie. Daarbenewens sal Volksraadslede wat die selfbeskikkingstrewe op enige stadium mag ondergrawe, demokraties uit hulle posisies verwyder kan word sodra ‘n mosie van wantroue op ‘n volksvergadering aangeneem mag word en sonder dat hulle eers ‘n “termyn” moet uitdien waarin hulle skade op skade kan aanrig.
Meer nog: Selfs die verkose Volksraad sal die uiteindelike besluit oor die grootte en ligging van ‘n eie grondgebied, of die vraag wat ons te doen staan as ons vreedsame pogings tot ‘n skikking sou misluk, aan die volk moet oorlaat deur volksvergaderings daaroor byeen te roep.
Die eerste belangrike onderskeidingskenmerk van die VVK-inisiatief is dus: Die volk besluit!
Verby is die dae wat ons aan die neus rondgelei word deur alewige beterweters, partye, strukture, rade of koukusse wat meen dat hulle beter weet wat goed is vir die volk as die volk self.
Die tweede belangrike saak is dat die VVK-inisiatief gebaseer is op regsvoorskrifte van die Volkereg. Wat ons doen is te alle tye ten volle wettig en regverdigbaar in die Suid-Afrikaanse- en Internasionale Reg. En hoe verder ons op hierdie vryheidsweg gaan vorder, hoe opwindender gaan sake word!
Besoek ons gerus op ons eie webwerf


